Here, hoe voel dit?

Ek deel graag met julle ‘n uittreksel uit my joernaal van 30 Des 2010. Dit is ‘n gebed wat ek vir God geskryf het in my persoonlike stiltetyd. Hierdie is ‘n spontane vloei van gedagtes en dalk nie altyd taalkundig so korrek nie. 

Here, ek is nog so ontsteld oor gisteraand. Iewers het ‘n man en vrou in die nag baklei. Hulle het op mekaar geskree en goed in die huis rondgegooi en gebreek. Dit was so erg om daarna te moes luister. Is dit wat U elke nag hoor en sien? Hoeveel kinders moet so na hulle ouers, wat baklei, luister. Ek het daarna gesukkel om te slaap en ek is so ver daarvan af. Ek weet nie eers uit watter huis die geskree gekom het, en ek voel so ontsteld. Hoe moet hulle, en as daar kinders is, vandag voel?  Hoe moet U voel om dit en baie erge dinge elke dag te sien?

Nog erger, U sien elke dag ons motiewe ook nog raak. U sien die gesindheid waarmee ons in die kerk sit, mense help, geld by die verkeerslig gee …. U sien ons gesindheid teenoor ons huweliksmaats, kinders en familie. U weet dit alles. Here, gun wonder U sluimer of slaap nooit. As ek dit alles moes sien of hoor het ek seker ook nooit geslaap nie. Tog Here, bly U vir ons lief. Al weet U ook wat ons oor U dink. Hoe seer moet U tog nie kry nie?

Here vergewe my asb vir elke keer as ek U seer maak met wat ek sê, of dink of doen.

Dis asof ek nou eers verstaan hoekom lofprysing vir U so aangenaam is. Dit maak seker ‘n groot verskil aan U dag. Kanseleer dit dalk van die sleg wat U elke dag moet sien en beleef uit? Vir U is ‘n opregte hart, ‘n nederige gesindheid, ‘n erkentenis van U Goddelikheid seker so ‘n lafenis. As iemand U erken as die God wat alles weet, en vir U raad vra, luister en gaan doen? Dit moet seker so lekker vir U wees tussen al die sleg wat U elke dag moet beleef?

U moet seker lofprysing van ‘n gemeente so geniet, as almal saam in eensgesindheid vir U sing. Almal wat saam in opregtheid voor U staan en met dankbaarheid U erken as hulle God? Here, maar ek wil nie eers dink hoe dit vir U moet voel om elkeen se gedagtes  te ken. U weet van elke dwalende gedagte, die kritiek oor die musiek, die onderlinge onmin… Jesus, vergewe my asseblief vir my aandeel hieraan. Dis so siek. Ons as mense is so siek, so vals, so selfgerig.  Hoe hou U dit met ons uit?

Here, hoe voel dit om te sê: “Kom na my toe almal wat moeg en oorlaai is” U sien al die moeë mense, maar hulle kom nie?

Hoe voel dit as U sê “Ek is ‘n Rots, ‘n Skuilplek” ,maar mense kom skuil nie by U nie?  Hulle gaan soek hulp en skuiling vir hulle seer by die TV, drank, werk, sport, pornografie ens.

Here, hoe voel dit as u vir iemand sê “Hier is die pad loop hierlangs” en hulle volg steeds hulle eie pad en kry dan seer?

Vader, U hart breek seker as U sê: “Vertrou op my, wees sterk en hou moed” en mense lê nagte wakker oor bekommernisse, terwyl hulle in U genade kan rus.

Dan nog Here, hoe voel dit om al die leuns te hoor wat mense vertel en die vernietigende gevolge daarvan te sien terwyl U so afsku in leuns het.

Heilige God hoe moet dit voel as ons so lukraak met U omgaan. U sê “Wie tot my nader moet besef dat Ek is heilig” en tog speel ons tok-tokkie met U. Ons sê “Here help” maar luister nie as U antwoord nie.

Ds. Bennie Mosterd het eendag in een van sy preke gesê ons “flirt” met U. Dit was vir my ‘n skok. Hy het gesê “flirt” is “passion without intent”  Here, is dit wat U elke dag moet beleef. Mense wat passievol oor U praat en selfs met U praat, maar hulle lewens verander nie. Here God, hoe moet dit voel om elke dag die skynheiligheid van ons mense, U kinders, te beleef? Dit moet soos dolksteke in U hart wees.

Vader U wat weet wat gebeur in die doderyk en in die onderaardse dieptes. Hoeveel te meer weet U wat aangaan in mense se harte. (Spr 15:11) Here, vergewe my vir elke keer wat ek U seergemaak het, vir elke keer wat U vir my gewag het en ek nie gekom het nie. Vir elke keer as U raad wou gee en ek nie kom vra het nie. Here vergewe my asseblief.

Vader ek bid Ps 19:15 vir 2011:  Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser.

Retha de Villiers
lewenssaad@gmail.com