"Occupied by God" 

So ’n tydjie gelede moes ek die toilet, op ‘n vliegtuig gebruik. By die deur aangekom, sien ek die skuifie, waarop “OCCUPIED” in rooi staan. Ek het geduldig gewag totdat die skuifie oopgestoot word, en die persoon die toilet verlaat  het. Op die skuifie het daar nou in groen “VACANT” gestaan. Nadat ek die toilet gebruik het, is ek terug na my sitplek om verder aan die boek "Absolute Surrender" van Andrew Murray, te lees. Ek lees toe die woorde: “Be occupied with God”. Skielik het die woorde vir my nuwe betekenis gekry.   

“Be occupied with God”  Is dit wat gebeur het met die uitstorting van die Heilige Gees? Is dit wat herlewing is? Mense wat hulself  “vacate” (ontruim) sodat die Heilige Gees hulle kan “occupy.”  

Prof Hennie Stander het by geleentheid gesê, ons sien die vervulling van die Heilige Gees soos ‘n bottel. Ons dink sommige christene is baie vol van die Gees en dan verwys ons na hulle as “goeie christene” Ander het weer net so bietjie van die Gees en ander het byna niks van die Heilige Gees in hulle nie. Hy sê ons moet ons denke verander. Dit gaan nie oor hoeveel van die Heilige Gees in ons lewens is nie. Dit gaan oor hoe min van onsself oor is in ons lewens, sodat die Heilige Gees deur ons kan werk.   

Kom ons gee onsself oor met ‘n gesindheid van; “Here, ek het U nodig vir my elke dag se lewe, ek kan nie doen wat U van my verwag as U my nie help nie. Kom vul my opnuut met U Gees”. Kom ons hou op om te probeer goeie christene wees, en wees oorgegewe christene. Leeg van onsself  en “occupied by God”

Retha de Villiers
lewenssaad@gmail.com